Share This Post

Idees vir hersiening

Idees vir hersiening

Die eindeksamen is amper hier. Ons verwag van leerders om somtyds ‘n volledige jaar se werk te onthou in ‘n toetsie wat minder as 100 punte tel. So, wat kan ons doen om ons leerders te help met voorbereiding in die laaste paar dae? Hier is ‘n paar idees!

  • Leer jou leerders hoe om te leer

Toe ek nog op skool was (en dis nie sό lank terug nie), het niemand my ooit geleer hoe om te leer nie. Ek het soos ‘n mal papegaai alles probeer opsê en onthou, kom die eksamen dan vergeet ek alles! Maak seker dat leerders weet dat die manier van leer vir verskillende vakke anders is. In sekere vakke moet ‘n mens papegaai-leer. In ander vakke moet ‘n mens oefen.

  • Speel hersieningspeletjies

As daar een ding is wat ek geleer het in die laaste drie jaar, is dat leerders die beste deur speletjies en pret leer. Verdeel jou klas in drie of meer groepe op, stel ‘n vraelys op en begin speel! Maak seker jy verdeel jou groepe sodat daar ten minste een sterk leerder in elke groep is. Wanneer jy die vrae lees, en nie net op die bord wys nie, oefen jy ook sommer luistervaardighede met jou leerders. Jy kan ook ‘n Kahoot! maak en leerders kan lekker op hul slimfone speel.

  • Laat leerders flitskaarte maak

Ek het al voorheen oor Quizlet geskryf, maar sjoe, dis regtig een van die beste maniere om papegaai-werk te doen. Leerders kan hulle eie Quizlets opstel of jy kan dit sommer vir hulle doen (maar dan leer hulle niks nie, so laat hulle dit maak en met mekaar deel!)

  • Verander jou rol na leerder

Ek hoor altyd leerder sê dat hulle die beste leer wanneer hulle iemand anders onderrig. Hoekom doen jy dit nie in jou klas nie? Leerders kan werk van lank terug vir huiswerk gaan deurlees (hersien) en vir die klas kom vertel waaroor dit gaan. Jy gee natuurlik leiding en maak seker dat hulle op die regte pad is. Die jaar was lank, leerders is nou al moeg om na jou te luister, so gee nou maar vir jou kinders ook kans om te praat.

  • Vryskryf

Ek dink dit was in die Klasgids waar ek onlangs weer oor vryskryf gelees het. Een van die maniere om inligting weer te herroep is om vir leerders die kans te gee om bloot ‘n pen en papier te gryp en te begin skryf oor ‘n sekere tema. Jy gee vir die leerders ‘n tydlimiet en sê dat hulle soveel as wat hulle kan onthou moet neerskryf. Aan die begin is dit moeilik, die brein is nog roeserig, en dan eweskielik maak die sluise van kennis oop en om daardie kind te kry om te stop skryf is dan ‘n missie en ‘n half.

  • Wys kort video’tjies van YouTube

Al is meeste video’s op die internet in Engels, sal leerders wat die konsep in hul huistaal eerste geleer het, video’tjies in ‘n tweede taal verstaan. Dis dan sommer ‘n goeie manier om woordeskat in die EAT te ontwikkel.

Daar is egter ook Afrikaanse video’s op die internet. Soek maar net op YouTube of soek op Onnies Online na video’s wat ons al opgespoor het.

  • Laat leerders hul eie toetse opstel

Niks laat jou meer dink as vraestel opstel nie, so hoekom kan kinders dit dan nie doen nie? Laat leerders ‘n hersieningsvraestel opstel asook ‘n memorandum. Kies dan ‘n paar toetse en fotostateer dit, of laat die leerders die toetse met mekaar uitruil. Omdat die memorandums reeds gedoen is, kan die leerders ook self hulle oefenvraestelle merk.

Het jy enige ander idees? Deel dit met ons!

Onlangse Artikels:

Afrikaanse hulpmiddels

Ou Vraestelle op die internet

Leer speel-speel

Natuurwetenskappe-lesse

Hersieningslesse vir graad 4

Share This Post

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.